KOLLIG OP KYRGYZSTAN (DEEL 1) | |
  |
![]() Sarie Theron 018 294 7991 of 072 752 3697 Kyrgyzstan is geleë in Sentraal-Asië, tussen baie hoë berge, die trots van die Kyrgyz. Hierdie berge is 'n groot deel van die jaar bedek met sneeu. Temperature wissel van ver onder vriespunt tot 47° C in die somer. Water vir alledaagse gebruik is nie afkomstig van reën soos ons dit ken nie, maar van die sneeu wat deurentyd smelt. Dit op sigself, maak die lewe daar alreeds moeilik. Die mense is baie, baie arm, maar ten spyte van hulle armoede, is hulle uiters gasvry, vriendelik en ontvang vriendskap baie goed, veral op die platteland. Hulle bly egter nog wantrouig oor dinge wat nie in hul kultuur bestaan nie. 'n Groot deel van die mense is geletterd. Die Kyrgyz is leergierig en lees graag. Hulle lewe baie primitief en mense kom klaar met net die nodigste. Letterlik alles word gebruik. Hulle huise is gewoonlik klein, sonder badkamer, toilet of lopende water. In die stede is groter en geriefliker huise, wat die lewe effens verwesters. Christenmeisies daar het één groot probleem. Hulle het drome en begeertes, maar die kans dat hulle gelowige mans kan kry, is skraal, aangesien mans oor die algemeen moeiliker tot geloof kom en hulle baie kultuur-gebonde is. Die moontlikheid van die ontvoering van meisies (16 jaar oud) as bruide, laat hulle drome dikwels in skerwe eindig. Dit moet gedwee aanvaar word, anders word hulle deur die hele samelewing verwerp. Die mense voer 'n rustige bestaan en het 'n "kuierkultuur" van op die grond sit rondom tee en brood. Hulle neem nie maklik besluite nie, maar oorweeg en heroorweeg sake. Wanneer jy uiteindelik hulle vertroue gewen het, kan jy 'n pad met hulle stap. Ons was vir 'n volle twee jaar in Kyrgyzstan, nie omdat ek graag wou nie, maar omdat ek glo dat die Here ons daar wou gehad het. Vir my was die voorbereiding om te kon gáán, feitlik die belangrikste, want ek moes my werk bedank. Voordat ek dit enigsins sou kon doen, moes ek eers uitvind dat my Koning sáám met my in hierdie "ding" was, anders sou ek nie hierdie stap kon neem om te bedank nie. Nadat Hy op verskillende maniere op één dag met my gepraat het en dit ook bevestig het met R2 000 (ons heel eerste "ondersteuninggeldjies" wat ons ontvang het), het ek gewéét dat ons nie alleen hierdie paadjie sou loop nie! Hy was in beheer en dit was Sy stryd en nie myne nie. So het ons die pad in geloof begin stap. Dit was nie maklik nie, maar dit was 'n ondervinding wat ek vir niks ooit sou wou verruil nie! In die eerste plek moes ek eers léér Engels praat, want hier op die platteland van Noordwes het ek nooit die geleentheid gehad om hierin vaardig te raak nie. Ons was deel van 'n span van ongeveer 10-12 gesinne, wat bestaan het uit talle nasionaliteite. Dit was dan ook hier waar ek sou leer om die Woord in Engels te bedien. Die lewe in Osh was vir ons makliker as vir die deursnee Kyrgyz, aangesien ons bevoorreg was om in 'n ten volle toegeruste woonstel met 'n badkamer, geyser vir warm water, en 'n toilet te woon. Ons het selfs 'n TV gehad. Wat kos betref, het ons alles gehad wat ons in SA kan kry, behalwe vir heerlike sagte vleis. Dáár word diere, selfs hoenders, aangehou totdat hulle regtig oud en taai is, voordat dit geslag word vir die pot of vir 'n inkomste. Ons het genoeg geëet, lekker warm gebad en redelik sag geslaap. Kobus het die boere met die hulp van tolke opgelei, maar ek moes iets soek om my tyd produktief te spandeer. Só het ek dan by van die skole doenig geraak en hulle biblioteke in orde gebring, en ook later Bekki Hale se biblioteek op die been gebring. Die dag met die opening was ek verantwoordelik vir die neem van foto's van die nuwe lede vir lidmaat-skap. Daarna het ek elke Saterdag die kinders in Engels leer tel, die alfabet geleer, asook 'n paar woorde. Ons het gereeld byeenkomste gehad met die res van die span, Bybelstudie gedoen, saam gesing en mekaar se laste gedra deur vir mekaar te bid. Dit was 'n groot seën om deel te wees van só 'n span. Op 'n keer het ons 'n besoek aan die somerweivelde ("jayloo") gebring en só die lewe van die mense midde in hulle kultuur beleef. Vroue, kinders en diere beweeg in somertyd na die "jayloo", waar koeie gemelk word, melk geroom word, botter gemaak word, "koeroet"-balletjies van melk gemaak word, skape geskeer word, wol gewas, gekleur en gespin word, maar waar hulle uiters primitief leef met net die absolute nodigste. Ons was daar vir drie dae en ons het op die derde dag, met dieselfde klere aan die lyf, sonder dat ons ooit kon bad of was, teruggekeer na die "village". Daar bestaan nie 'n toilet in die "jayloo" nie, jy loop eenvoudig net oor die rand van die berg! Die Kyrgyz is vriendelike mense, uiters gasvry, honger vir vriendskap, maar wat tog ook nie die kuns verstaan van ware vriendskap nie. Omdat hulle so ontsettend arm is, beskou hulle enige uitlander wat lyk of hy geld het, as 'n potensiële "Ridder op 'n wit perd". Dit kan hulle geleentheid wees om uit hul bodemlose put van armoede te kom. Daarom moes ons maar versigtig wees om hulle nie onnodig hoop in hierdie verband te gee nie. Daar is ook die vodka-strik waarin baie mans trap. Dit veroorsaak dat hulle nog minder geld het om van te leef. Toe die "milklady" haar hand beseer het en ek dit eers drie dae later sien, kon ek dit net skoonmaak, salf smeer en toebind vir 'n week lank, elke dag. Só kon ons die liefde van Jesus uitleef tussen hulle. Net dit… vriende maak… en verhoudings bou en voorbeeld stel, want hulle het géén voorbeelde van dienende liefde nie, net die verlede van die harde werklikheid van Kommunisme, armoede en vodka. Ons het in hierdie ervaring van ver-van-ons-mense-en-alles-wat-bekend is, die allesoorheersende wete gehad dat dit wonderlik is om in totale afhanklikheid van God te lewe, want Hy het in alles vir ons onderneem: finansies, gesondheid en emosioneel. Dít verruil ek vir niks in hierdie lewe nie! 'N KORT GETUIENIS OOR ONS VERTREK NA KYRGYZSTAN: GOD PRAAT MET MY OP 7 MAART 2003 Ons het voorbereidings getref om na Kyrgyzstan te vertrek vir "leefstyl-evangelisasie" of "vriendskapsevangelie". Ons het sielkundige toetse ondergaan, 'n kursus deurloop, ens., maar ek het self nie op daardie stadium gedink dat ons werklik sover sou kom om ons land te verlaat nie, totdat ons 'n brief gekry het wat ons ingelig het dat ons 'n spesifieke bedrag geld moes genereer in Suid-Afrika wat ons moes onderhou in Kyrgyzstan. Ons moes hier ondersteuners werf, maar om mense te vra om dit te doen, was bo my vuurmaakplek. Ek was in 'n toestand, want ek het nie kon dink waar die geld vandaan sou kom nie. Op 7 Maart 2003, (Wêreldbiddag vir Vroue), het ek myself geklee in kerkklere om die eenvoudige rede dat wat ek wou aantrek vuil was en ek gedwing was daartoe. By die werk gekom, het ek dié oggend my hart op die tafel uitgepak in gebed, want ek was bekommerd en Jesus was die enigste Een wat alles geweet het. Ek het sommetjies probeer maak, hoeveel mense ons sou moes vra vir ondersteuning, maar dit het my eenvoudig net nêrens gebring nie, totdat ek besluit het dat alléén Hy iets aan hierdie situasie kon doen. Ek het Hom vertel dat ek nie mense vertrou nie, omdat hulle onbetroubaar is, maar ek vertrou Hom alléén, want Hy het alles gemaak en kan daarmee doen wat Hy wil! Na hierdie worsteling, het my man my kantoor binnegekom en gesê dat ons vergeet het dat dit "Wêreldbiddag vir Vroue" is en dat ek die motor moes neem en kerk toe gaan. Gelukkig het hy ingewillig om my kantoor te beman vir die tyd wat ek dan in die kerk sou wees. By die kerk aangekom, het die predikantsvrou 2 Kron. 20:1-26 voorgelees. Ek het yskoud geword, want hoe verder sy gelees het, hoe meer het ek gewéét dat daardie boodskap vir my bedoel was! Ek het geweet dat God met my gepraat het, dat hierdie stryd om fondse bymekaar te maak, nie my stryd was nie, maar God se stryd en dat ek nie bang hoef te wees nie. Ek het op die wolke geloop terug na my kantoor toe! Later die dag het een van die mense wat my en my gesin goed geken het, ingekom en sy werk afgehandel. Na afloop daarvan het ons sommer net gestaan en gesels. Toe onthou ek van die omsendbrief van "Interserve" (die Organisasie deur wie ons gestuur is), en wys dit aan hom. Daarin was 'n berig waarin ons foto verskyn het met die versoek dat mense asseblief vir ons moes bid, aangesien ons besig was om fondse te werf vir die 2 jaar in Kyrgyzstan. Hierdie man het die artikel gelees en toe vra hy my of hy iets vir ons kon gee. Ek was uit die veld geslaan en het gedink dat dit baie dom van my sou wees as ek dit nie sou aanvaar nie, want ek het mos my hart uitgestort voor Jesus! Ek het geantwoord dat hy welkom is om dit te doen. Hierdie man het sy tjekboek uitgehaal en 'n tjek uitgeskryf, nie vir R200 nie, maar R2 000! Op hierdie één dag het die Here, deur verskillende dinge wat in plek geval het, my sover gekry om nie te vrees nie, maar op Hom te vertrou: 1. Ek moes kerkklere aantrek om later kerk toe te kon gaan, (ek sou nooit kerk toe gaan met werksklere nie). 2. My man was gehoorsaam, het gekom en die motor vir my gebring. 3. Hy het my kantoor beman terwyl ek weg was. 4. Ek kon by die kerk uitkom om die boodskap te hoor. 5. Jesus het Sy woord aan my bevestig met R2 000. Kyk hoe getrou is ons Hemelse Vader! Vader het gewéét dat Hy só met my moes praat, anders sou ek nie geluister het nie! Ek sou nie my werk kon bedank as ek nie gewéét het dat Hy saam met ons in hierdie "sending" was nie. Ons ondervind tot vandag toe nog Sy voorsiening, n.a.v. Sy Woord (teks hierbo)! LEES VOLGENDE MAAND DEEL 2 - NOG GETUIENISSE OOR ONS VERBLYF IN KYRGYZSTAN. |